Die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 (“die Wet”), het op 15 Desember 1998 in werking getree. Die doel van hierdie wet is om slagoffers teen gesinsgeweld te beskerm.
Dit stel ‘n prosedure daar vir ‘n persoon om aansoek te doen vir ‘n beskermingsbevel by die hof.
Die Wet verwys na die persoon wat die aansoek bring as die “klaer” en die persoon wat ‘n daad van gesinsgeweld gepleeg het as die “respondent”.
Daar is ‘n hele lys van watter handelinge beskou word as ‘n daad van gesinsgeweld. Die handelinge word nie beperk tot fisiese geweld nie. Ander dade van geweld soos emosionele, verbale, sielkundige, ekonomiese en seksuele mishandeling word alles geag dade van gesinsgeweld te wees. Die Wet brei ook die beskerming uit na intimidasie, teistering, agtervolging en skade aan eiendom.
‘n “Klaer” is enige persoon (insluitend ‘n kind in die sorg van die persoon) wat:
- in ‘n gesinsverhouding is of was met ‘n respondent en;
- onderwerp is of na bewering onderwerp is aan ‘n daad van gesinsgeweld.
Die Wet vereis dat die klaer en die respondent in ‘n gesinsverhouding moet wees of moes gewees het. Die Wet definieer ‘n gesinsverhouding soos volg:
“Gesinsverhouding” beteken ‘n verhouding tussen ‘n klaer en ‘n respondent op enige van die volgende maniere:
- hulle is of was met mekaar getroud, insluitend ‘n huwelik volgens enige wet, gebruik of godsdiens;
- hulle (hetsy hulle van dieselfde of van die teenoorgestelde geslag is) woon of het saam gewoon en het ‘n verhouding in die aard van die huwelik, maar hulle is nie met mekaar getroud nie, of is nie in staat om te trou nie;
- hulle is die ouers van ‘n kind of persone wat ouerskapsverantwoordelikheid vir die kind het of gehad het (hetsy op dieselfde tyd of nie);
- hulle is familielede wat verwant is deur middel van bloedverwantskap, aanverwantskap of aanneming;
- hulle is of was verloof, in ‘n verhouding of ‘n gebruiklike verhouding insluitend ‘n werklike of veronderstelde romantiese, intieme of seksuele verhouding van enige duur; of
- hulle deel of het onlangs dieselfde woning gedeel.
Wanneer die begrippe “gesinsverhouding” en “gesinsgeweld” soos deur die Wet omskryf gelees word, is dit duidelik dat die wydste moontlike beskerming aan slagoffers van gesinsgeweld, in welke vorm ookal, verleen word.
Die Appèlhof het onlangs ‘n uitspraak gelewer wat spesifiek handel oor die interpretasie van die definisie van ‘n gesinsverhouding in die Wet. In Daffy vs Daffy (2012) 4 ALL SA 607 (HHA) het die hof bevind dat die konsep van “familie” in artikel 1(x)(d) ‘n te wye begrip is. Meer spesifiek is bevind dat die definisie van ‘n “gesinsverhouding” in die Wet swak geskryf is, en dat die Wet nie ‘n presiese betekenis in die definisie weergee nie.
Die hof het bevind dat die Wet dus so geïnterpreteer moet word om die konsepte “gesinsverhouding”, “familie” en “gesinsgeweld” duidelik te definieer. Met die interpretasie van wetgewing, en hierdie Wet spesifiek, moet die onderliggende doel van die statutêre bepalings versigtig oorweeg en in gedagte gehou word. Met ander woorde, die rede waarom hierdie Wet deur die regering goedgekeur is, moet ook in ag geneem word.
Die hof het al die gepaardgaande omstandighede oorweeg om te bepaal of die klaer se gesondheid, veiligheid en welsyn deur die respondent se dade bedreig word.
In die uitspraak het die hof opgemerk dat daar al by ander geleenthede deur die howe gemeld is dat ‘n gesinsverhouding ‘n verhouding behels waar persone ‘n gemeenskaplike huishouding deel (mense wat saam onder een dak woon). Die hof het egter bevind dat die wetgewer se bedoeling wél ‘n wyer definisie moes gewees het, maar nie so wyd as om ‘n blote bloedverwantskap in te sluit nie.
Die implikasies van hierdie uitspraak is verreikend.
Elke saak sal nou individueel oorweeg en die relevante faktore en omstandighede in ag geneem moet word. Die definisies in die Wet kan nie meer so letterlik vertolk word soos voor die Daffy-uitspraak nie. Elke hof sal sy diskresie moet gebruik om te besluit of die persone wel in ‘n gesinsverhouding staan en kan nie meer net aanvaar dat sodra hulle binne die definisie van die Wet val, die wet mutatis mutandis geld nie.
Verslae van gesinsgeweld sal meer versigtig oorweeg moet word. Die klaer en respondent kan dalk nie in ‘n gesinsverhouding wees nie en die Wet kan dan nie toegepas word nie. Diegene wat klagtes van gesinsgeweld ondersoek sal moet oplet en kennis neem van die enger definisie en verseker dat die partye wel in ‘n “gesinsverhouding” is.
As jy ‘n slagoffer van gesinsgeweld is en die behoefte het aan ‘n beskermingsbevel vir jou eie fisiese en emosionele welstand, sal jy regsadvies vroeër eerder as later moet inwin. Bystand deur ‘n prokureur of die regshulpkliniek in ’n aansoek om ‘n beskermingsbevel sal verseker dat die vereistes behoorlik nagekom word en dat die nodige en korrekte inligting in die aansoek weergegee word.
‘n Slagoffer kan ook die hof nader in sy of haar persoonlike hoedanigheid. Die klerke van die gesinsgeweldhof sal jou help en sal vriendelik en empaties wees. Hulle is goed vertroud met die vereistes van die wetgewing. Dit is ook belangrik om regsadvies en regsverteenwoordiging te bekom indien ‘n beskermingsbevel teen jou versoek word, veral omdat die proses wel misbruik kan word en so ‘n bevel, wanneer toegestaan, ernstige gevolge vir die kriminele rekord van die respondent kan inhou.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.