Korporatiewe beheer: aard van beslote korporasies en hul lede

The requirements and benefits of a sole mandate
February 4, 2019
Electronic signing of documentation
March 13, 2019
Die Maatskappywet No 71 van 2008 (“die Maatskappywet”) hou belangrike gevolge vir beslote korporasies in. Daar kan onder andere geen inkorporasie van nuwe beslote korporasies kragtens die Wet op Beslote Korporasies ná die inwerkingtreding van die Maatskappywet (1 Mei 2011) plaasvind nie en geen maatskappy kan ná 1 Mei 2011 in ’n beslote korporasie omskep word nie. Beslote korporasies wat reeds op die datum van inwerkingtreding van die Maatskappywet bestaan het, sal toegelaat word om vir ’n onbepaalde tydperk te bly voortbestaan, maar geen nuwe beslote korporasies mag tot stand gebring word nie.

’n Beslote korporasie het nie aandeelhouers nie, maar wel lede. ’n Beslote korporasie is ’n afsonderlike regspersoon en staan onafhanklik en verwyderd van sy lede. ’n Beslote korporasie kan uit een tot tien lede bestaan. Die beperking op die aantal lede in ’n beslote korporasie beklemtoon die Wetgewer se bedoeling dat beslote korporasies bestem is vir kleiner ondernemings, waar die verhoudings tussen die lede soortgelyk is aan dié van vennote.

Slegs natuurlike persone mag lede van ’n beslote korporasie wees en geen regspersone mag ’n ledebelang in ’n beslote korporasie hou nie. ’n Maatskappy of beslote korporasie kan dus nie ’n lid van ’n beslote korporasie wees nie. ’n Beslote korporasie mag wel ’n lid van ’n maatskappy of vennootskap wees en ’n beslote korporasie kan selfs die beherende aandeelhouer van ’n maatskappy word.

’n Trustee van ’n trust, hetsy ’n inter vivos of testamentêre trust kan in sy hoedanigheid as ’n trustee ’n lid van ’n beslote korporasie wees. Daar bestaan egter sekere beperkings op die toelating van ’n trustee van ’n trust inter vivos om ’n lid te wees, soos die vereiste dat geen regspersoon ’n begunstigde van sodanige trust kan wees nie.

Nuwe lede wat ná die registrasie van ’n beslote korporasie aansluit, moet hul ledebelang óf van ’n bestaande lid verkry, óf deur ’n bydrae, in die vorm van geld of ander bates, aan die korporasie maak. Die Wet maak uitdruklik voorsiening vir die vervreemding van ’n lid se belang in die geval van dood of insolvensie van ’n lid, asook waar daar op ’n ledebelang beslag gelê word en dit dan in eksekusie verkoop word. Elke vervreemding van ’n ledebelang, of deel daarvan, moet bewerkstellig word óf ingevolge die samewerkingsooreenkoms (as daar een is) óf met die instemming van al die ander lede in die vorm van ’n resolusie en die indiening van ’n CK2-dokument by die CIPC (“Companies and Intellectual Property Commision”).

Die Wet op Beslote Korporasies maak veral vir twee wyses van regsverhaal of remedies vir lede onderling teen mekaar voorsiening, naamlik a) die beëindiging van die betrokke lid se lidmaatskap deur ’n hofbevel ingevolge artikel 36; en b) bystand van die hof waar ’n lid of lede skuldig was aan onredelike benadelende optrede ingevolge artikel 49.

Ingevolge die Wet op Beslote Korporasies het lede twee spesifieke pligte teenoor beslote korporasies, naamlik, a) ’n vertrouensplig; en b) ’n sorgsaamheids- en vaardigheidsplig.

 
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).