Die verkryging van ‘n beskermingsbevel teen teistering was nog nooit so maklik en koste-effektief nie. Hoekom is dit dan van belang, aangesien ‘n beskermingsbevel tot dusver slegs van toepassing was op persone wat in ‘n naby verhouding teenoor mekaar staan, met ander woorde indien hulle verloof is of was, getroud is of was, saamgewoon het, of in ‘n ouer-kind verhouding staan. Die goeie nuus begin egter hier.
Voor die inwerkingtreding op 27 April 2013 van die Wet op Beskerming teen Teistering no 17 van 2011 was die verkryging van ‘n beskermingsbevel teen teistering ‘n langdurige en duur proses. Die situasie het egter sedertdien drasties verander.
Een van die belangrikste oorwegings wat bygedra het tot die inwerkingtreding van die Wet was om behoeftiges en armes wat nie ‘n grootmeneer-prokureur kan bekostig nie, tegemoet te kom.
In een van die eerste sake waar ‘n bevel kragtens die Wet toegestaan is, het dit slegs vyf ure geneem om die bevel te verkry, teen minimale moeite en koste. Voordat ‘n aansoek om ‘n beskermingsbevel oorweeg word, moet daar egter vasgestel word watter gedrag as teistering beskou kan word.
Teistering word oor die algemeen beskryf as optrede wat volgens die oordeel van ‘n redelike persoon, waarskynlik sielkundig, geestelik, fisies of ekonomies vir die slagoffer beledigend en skadelik kan wees. Afloer, agtervolging of die aanhoudende stuur van SMSe, e-posse en briewe wat die effek van bedreiging of afpersing het, is nog voorbeelde van teistering.
Nietemin moet daar fyn onderskeid getref word tussen boodskappe in die middernagtelike ure wat beskou kan word as ‘n liefdesverklaring en middernagtelike boodskappe wat seksueel van aard is en verleentheid veroorsaak.
Die inwerkingtreding van die nuwe Wet beteken dat “kuberboelies” ook aangekla en vasgetrek kan word voordat hulle iemand skade berokken. Kuberboelies is gewoonlik mense wat eksplisiete video’s of foto’s van ander sonder hul toestemming op sosiale netwerke plaas.
Dit bring ons by die mees gevreesde vorm van teistering, naamlik die teistering van jou kind. Hierdie teistering kan plaasvind by wyse van die bedreiging van jou kind of selfs konfrontasies wat die kind in ‘n ongemaklike posisie plaas en vir hom/haar traumaties kan wees.
Nog ‘n voordeel van die Wet 17 van 2011 is dat jy selfs ‘n beskermingsbevel teen teistering kan verkry, al weet jy nie wie die teisteraar is nie. In so ‘n geval sal die hof gelas dat die polisie ondersoek instel ten einde die identiteit van die teisteraar vas te stel. Dit weerspieël ‘n belangrike dryfkrag agter die inwerkingstelling van die Wet.
Snelle tegnologiese ontwikkeling het meegebring dat elektroniese teistering baie maklik is. Hierdie vorm van teistering is veral gewild onder skoolkinders en is ‘n effektiewe metode van intimidasie en bedreiging. In sulke gevalle sal die hof ook die elektroniese diensverskaffer gelas om die identiteit van die oortreder te verskaf.
Die nuwe Wet is ook ontwerp om dieselfde vinnige aansoek om ‘n beskermingsbevel wat vir algemene teistering geld, op elektroniese teistering van toepassing te maak.
Die metode om ‘n beskermingsbevel te verkry, is soos volg:
- Wanneer jy seker is jy word geteister, kan jy bloot ‘n beëdigde verklaring by die naaste landdroshof aflê (die hof moet egter geleë wees binne die gebied waar die teistering plaasgevind het of binne die gebied waar die teisteraar woonagtig is.)
- Let daarop dat die bevel tydelik van aard sal wees en slegs toegestaan sal word indien die teisteraar se optrede jou bedreig of skade aan jou berokken.
- Die volgende stap is ‘n aansoek om ‘n permanente beskermingsbevel. Die aansoek word dan op die teisteraar beteken om hom/haar te verwittig van die datum waarop die aansoek om die finale bevel deur die hof aangehoor gaan word.
- Indien die bevel permanent gemaak word en die teisteraar met sy/haar optrede voortgaan, kan die polisie se hulp gevra word. In so ‘n geval sal die teisteraar in hegtenis geneem word en gestraf word met ‘n boete of gevangenisstraf wat nie vyf jaar oorskry nie.
Sou iemand ‘n vals klag van teistering lê, kan hy/sy op dieselfde wyse as hierbo verkla word.
Ter afsluiting…
Die doel van die nuwe Wet is om teistering te bekamp en ook om as hulpmiddel te dien vir behoeftiges wat nie regshulp kan bekostig nie.
Teistering word veral ernstig geag wanneer dit by kinders kom, aangesien ons grondwet die beste belang van ‘n kind baie hoog ag.
Dit is dus elke persoon se plig om homself/haarself of sy/haar kind teen teistering te beskerm deur dit aan te meld by die klerk van die naaste landdroshof om ‘n beskermingsbevel te bekom.
Die nuwe Wet poog om beskerming teen teistering ‘n werklikheid te maak deur ‘n proses wat nou vinniger en goedkoper as tevore is.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.