Basiese diensvoorwaardes

Difference between the Domestic Violence Act and the Harassment Act
November 2, 2015
Maintenance
December 2, 2015

A4_BDaar is basiese voorwaardes wat in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997 uiteengesit word. Die Wet reguleer, onder andere, die werksure wat werknemers toegelaat mag word om te werk. Of hierdie voorwaardes in die praktyk toegepas word, is egter onseker.

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997 (WBD) stel sekere minimum standaarde van werksomstandighede vir werknemers. Die WBD bepaal in Artikels 1 en 3 dat dit nie van toepassing is op onafhanklike kontrakteurs, sowel as sekere ander persone soos onbetaalde vrywilligers, lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die Suid-Afrikaanse Nasionale Geheime Diens nie. Voorwaardes rakende werksure is ingesluit in die WBD wat, benewens die algemene uitsluitings hierbo, die volgende persone insluit:

  • Senior bestuurders;
  • Verkoopspersoneel wat die persele van klante besoek en hul eie werksure reël;
  • Werknemers wat minder as 24 uur per maand vir ‘n werkgewer werk;
  • Werknemers wat meer as R 205 433.30 per jaar verdien.

As jy nie in een van die bogenoemde kategorieë val nie, sal die minimum standaarde in die WBD wat werksure reguleer op jou van toepassing wees.

Die maksimum aantal werksure per week is 45 ure. Diegene wat vyf dae per week werk, kan ʼn maksimum van 9 ure per dag werk en diegene wat ses of sewe dae ‘n week werk, kan ʼn maksimum van 8 ure per dag werk. Die ure kan per ooreenkoms tussen werknemer en werkgewer verleng word, maar hierdie verlenging is beperk tot ‘n maksimum van 15 minute ekstra per dag of 60 minute ekstra per week.

‘n Etenspouse van minstens 1 uur word toegeken aan ‘n werknemer wat vir meer as 5 ure aaneen gewerk het, en die werknemer mag in hierdie tyd slegs gevra word om take te doen wat nie ongedaan gelaat kan word nie of wat nie aan ‘n ander werknemer toevertrou kan word nie. As daar van die werknemer vereis word om te werk tydens sy etenspouse, of indien daar van hom verwag word om beskikbaar te wees vir werk, moet die werknemer vergoed word vir sy beskikbaarheid tydens dié tydperk.

Oortyd word tot 10 ure per week beperk as dit per ooreenkoms tussen ‘n werkgewer en werknemer gereël is. Dit kan egter tot 15 ure per week verhoog word deur middel van ‘n kollektiewe ooreenkoms, maar so ʼn ooreenkoms het beperkings en kan nie vir meer as twee maande in ‘n tydperk van 12 maande toegepas word nie. Die tarief waarteen die vergoeding vir oortyd bereken word, is 1.5 keer die werknemer se normale vergoeding.

Dit is ‘n paar van die basiese voorwaardes rakende werksure, en verdere voorwaardes en uitsonderings daarop kan in Artikel 9 – 18 van die WBD gevind word. Alhoewel die bogenoemde toestande lyk asof dit beskerming aan werknemers verskaf, sal baie mense bloot kennis daarvan neem en voortgaan om oortyd te werk sonder betaling en sonder om te kla. Ongelukkig leef ons in ‘n land waar daar baie meer mense is wat werk soek as wat daar werk beskikbaar is, dus is die enigste geval waar hierdie Wet behoorlik benut word, met kollektiewe bedinging en vakbonde; dit bied dus min troos vir individuele werknemers wat nie aan vakbonde behoort nie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Verwysingslys:

  • A C Basson, M A Christianson, A Dekker, C Gerbers, P A K Le Roux, C Mischke, E M L Strydom Essential Labour Law 5de uitgawe (2009)
  • Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997
SRA
SRA