Werknemers word dikwels in die gesig gestaar deur ‘n moeilike situasie in die werkplek wanneer hulle swanger word. Baie instellings reageer nie gunstig teenoor vroulike werknemers wat swanger word nie. Daar word dikwels op verskeie direkte en indirekte maniere teen hierdie werknemers gediskrimineer. Daar is egter duidelike riglyne wat werknemers in sulke situasies beskerm en waarvan die werknemers hulself moet vergewis.
Daar kan op ‘n verskeidenheid van maniere teen werknemers in die werkplek gediskrimineer word weens hul swangerskap. Hierdie vorms van diskriminasie kom in verskillende grade van benadeling teenoor die werknemer voor. Dit kan wissel van die terminering van haar kontrak, slegte behandeling en verbale mishandeling tot ‘n gespot omdat sy swanger geword het.
As ‘n beginpunt word daar in Afdeling 9(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika[1] verklaar dat daar teen geen persoon gediskrimineer mag word weens die feit dat sy swanger is nie. Enige werknemer kan haar dus beroep op haar grondwetlike reg om nie diskriminasie in enige vorm te aanvaar weens haar swangerskap nie. Hierdie reg word verder bevestig deur Paragraaf 4.2 van die Goeie Praktykkode oor die Beskerming van Werknemers tydens Swangerskap[2].
Die ergste vorm van diskriminasie teen ‘n werknemer is die ontslag van ‘n werknemer as gevolg van haar swangerskap. Die Wet op Arbeidsverhoudinge[3] bepaal spesifiek dat ‘n werkgewer nie daarop geregtig is om ‘n werknemer te ontslaan as gevolg van swangerskap nie. Daar is egter ander maniere waarop teen ‘n swanger werknemer gediskrimineer kan word waarvan kennis geneem moet word.
Werknemers moet op die uitkyk wees vir meer subtiele vorms van diskriminasie soos kontrakte wat nie hernu word nie, alhoewel dit vroeër duidelik was dat dit hernu sou word, of waar bevordering nie aan ‘n werknemer toegestaan word nie bloot omdat sy op daardie tydstip swanger is. Wanneer ‘n werknemer kan bewys dat daar ‘n direkte verband tussen enige nadeel en haar swangerskap is, sal sy waarskynlik geregtig wees op die gepaste regstelling. Werknemers is verder ook geregtig op ‘n sekere tydperk van onbetaalde kraamverlof en is geregtig om daarop aan te dring.
In die geval waar ‘n werknemer ontslaan word as gevolg van haar swangerskap, of waar dit duidelik is dat daar op enige manier teen die werknemer gediskrimineer is weens hierdie rede, is daar verskeie regstellings waaruit die werknemer kan kies. Dit is altyd ‘n goeie idee om die saak op te los sonder om regsaksie te neem, aangesien dit baie duur is en waarskynlik ‘n ongemaklike atmosfeer tussen werkgewer en werknemer sal meebring. ‘n Informele reëling tussen werkgewer en werknemer word dus aanbeveel, alhoewel dit nie altyd ‘n praktiese oplossing bied nie. Indien geen ander opsie aan die werknemer beskikbaar is nie, kan sy altyd die CCMA of Arbeidshof nader om te bewys dat daar teen haar gediskrimineer is weens haar swangerskap. Sy sal dan in ‘n posisie wees om die gepaste regstelling te versoek.
Ten slotte, vroulike werknemers moet op die uitkyk wees vir moontlike vorms van diskriminasie teen hulle, aangesien dit uitdruklik verbied word. Direkte en indirekte vorms van diskriminasie bestaan, maar is nie altyd so maklik om uit te ken nie. Indien dit egter geïdentifiseer en bewys word, sal sodanige diskriminasie nie toegelaat word nie en gevolglik reggestel word.
Bibliografie
Wette:
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
Goeie Praktykkode oor die Beskerming van Werknemers tydens Swangerskap
Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995
[1] Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
[2] Goeie Praktykkode oor die Beskerming van Werknemers tydens Swangerskap
[3] Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)