Terms of Use

Expert Legal Services with Personalised Support ꟾ Madeleyn Inc.

Suid-Afrikaanse burgers beskik oor die algemeen nie oor voldoende kennis rakende die prosedures verbonde aan die registrasie van ʼn sterfte, die verkryging van ʼn doodsertifikaat, of hoe en waar hierdie prosesse afgehandel kan word nie. Om die afsterwe van ’n familielid te verwerk is op sigself ’n beproewende tydperk, sonder die ekstra drama daaraan verbonde om die nodige regsprosesse te probeer uitvind en voltooi. Daar is ʼn uiteensetting van die regulasies en vereistes, in die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes 51 van 1992, vir die registrasies van sterftes sowel as die stappe verbonde aan die verkryging van ʼn doodsertifikaat.

Volgens die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes moet die afsterwe van die persoon gerapporteer word aan ’n gemagtigde amptenare, soos aangewys deur die Departement van Binnelandse Sake. Amptenare by die Departement van Binnelandse Sake, Suid-Afrikaanse Polisiediens, Suid-Afrikaanse Ambassade of Konsulate is gemagtig, en ingevolge van die bemagtiging kan die betrokke amptenare ʼn sterfte registreer.

ʼn Vorm vir die kennisgewing van Sterfte (vorm BI-1663) moet voltooi word wanneer ʼn sterfte gerapporteer word. Hierdie vorm, tesame met alle ander relevante dokumente om die afsterwe van ʼn individu te registreer, is beskikbaar by alle kantore van die Departemente van Binnelandse Sake. Sommige afdelings van hierdie vorms moet deur bepaalde individue ingevul word, alvorens die sterfte geregistreer is. Die nodige individue is die persoon wat die sterfte rapporteer, ʼn mediese praktisyn of ʼn tradisionele geneesheer en ʼn lid van die Binnelandse Sake of die Polisiediens. Elk van die individue moet ’n deel van die vorm invul alvorens die vorm voltooi is.

Die Sterfteverslag (vorm BI-1680) sal uitgereik word nadat die sterfte by ʼn spesifieke, gemagtigde amptenare- soos deur die wet bepaal – aangemeld is. Hierdie verslag kan net uitgereik word deur iemand wat oor die nodige magtiging beskik. Hierdie aangewese persone kan ook ʼn begrafnisbevel uitreik. Geen begrafnis kan plaasvind totdat ʼn begrafnisbevel (vorm BI-14) deur een van die amptenare uitgereik is nie.

Die afsterwe van Suid-Afrikaanse burgers en Suid-Afrikaanse permanente verblyf permithouers, wat buite Suid-Afrika sterf, moet aan die naaste Suid-Afrikaanse Ambassade of Konsulaat gerapporteer word. Die land waarin die afsterwe gerapporteer is, is dan verantwoordelik vir die uitreiking van ʼn doodsertifikaat. ʼn Gesertifiseerde afskrif van die doodsertifikaat moet dan na die Suid-Afrikaanse Ambassade gestuur word. As die oorlede in Suid-Afrika begrawe word, sal amptenare van die betrokke Ambassade help om al die papierwerk en reëlings in orde te kry, sodat die liggaam van die oorlede burger na Suid Afrika gestuur kan word en te ruste gelê kan word.

Die Departement van Binnelandse Sake sal ʼn sterftesertifikaat uitreik met ontvangs van die volledige voltooide kennisgewing van sterfte vorm (vorm BI-1663), sowel as die Sterfteverslag (vorm BI-1680) en die aansoekvorm vir ʼn sterftesertifikaat. ʼn Verkorte sterftesertifikaat sal verniet uitgereik word sodra die nodige papierwerk ingehandig is. ʼn Volledige sterftesertifikaat sal uitgereik word (vir die verkryging van hierdie vorm sal daar ’n bedrag betaal moet word), met die indiening van die voltooide BI-132 vorm.

Indien ’n persoon foutiewelik as dood in die Nasionale Bevolking Registreer geregistreer is, moet hy/sy of enige belanghebbende party dit onmiddellik aan die Departement van Binnelandse Sake rapporteer sodat ʼn dringende ondersoek na die saak aanvang kan neem.

Hoofstuk 3 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes het ʼn uiteensitting van die prosesse wat gevolg moet word indien iemand in jou familie of vriendekring sterf. Die Wet stipuleer ook die spesifieke toestande waarin persone kan sterf en hoe dit die regulasies beïnvloed en verander. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ʼn mens aan natuurlike oorsake sterf of in teenstelling daarmee wanneer die dood die gevolg van andere oorsake is. Die prosesse en die amptenare wat vorms moet invul verskil vir die boegenoemde twee oorsake van dood. Die regsprosesse is baie eenvoudig en die amptenare by Binnelandse Sake kantore is baie behulpsaam en sensitief. Sodra ʼn mens weet waarheen om te gaan en met wie om te praat dan voel die proses reeds korter en nie so oorweldigend nie.

Verwysingslys

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X