Om ‘n hond as troeteldier te hê, is sekerlik een van die mees vervullende ervarings en ‘n onuitputlike bron van onvoorwaardelike liefde, maar terselfdertyd bring dit ook groot verantwoordelikhede mee. Nou praat ek nie eens van die veeartsrekeninge en die versorging en oefening wat jou viervoetige vriend nodig het nie. Wanneer jy ‘n hond besit het jy ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat jou hond nie enigiemand of hul eiendom skade aandoen nie.
Wat nou gemaak as jou geliefde vriend jou in die skande steek?
Die ergste gebeur. Weens omstandighede buite jou beheer slaan jou viervoetige vriend sy slagtande in menslike weefsel in! Daar is bloed, ‘n besering en ‘n geskokte en woedende slagoffer. Gelukkig is die wond nie te groot nie, maar voordat jy om verskoning kan vra, storm die getraumatiseerde party daar weg met die woorde: “Jy sal betaal hiervoor; sien jou in die hof!”
Kan jy aanspreeklik gehou word vir die skade wat deur jou onnutsige hond veroorsaak is? Ja, jy kan wel aanspreeklik wees, afhangende van die omstandighede.
Skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan van jou verhaal word deur die Actio de Pauperie. Jy sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat:
- jy die eienaar van die dier was ten tye van die besering;
- die dier ‘n huisdier is;
- die dier strydig met die aard van ‘n huisdier opgetree het; en
- die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
Wat maak jy nou?
Moet jy maar net aanvaar dat jy sal moet opdok vir jou hond se swak gedrag? Die onus rus op jou, die eienaar van die hond, om te bewys dat daar ‘n geldige verweer bestaan.
Die kans is goed dat jy vir die skade verantwoordelik gehou sal word, tensy jy ‘n baie goeie verweer het en suksesvol kan bewys dat:
- jou arme hond uitgelok is deur die klaer se toerekenbare optrede;
- jou nikswerd swaer in beheer van jou hond was ten tye van die voorval, met ander woorde dat ‘n derde party beheer oor die dier gehad het en dat die skade veroorsaak is deur daardie persoon se nalatigheid;
- die klaer geen wetlike reg gehad het om op die perseel te wees nie;
- die klaer bewus was van die risiko en dit vrywillig aanvaar het;
- die eienaar nie aanspreeklik is vir skade wat deur die dier aangerig is nie, in terme van ‘n geldige vrywaringsooreenkoms tussen die partye.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).