Terms of Use

Expert Legal Services with Personalised Support ꟾ Madeleyn Inc.

Die einde van 2018 het aangebreek en soos met alles wat tot ʼn einde kom, kyk ons terug na dit wat verby is.  Ons het dit dus goedgedink om ʼn kort opsomming vir u te gee van die belangrike onderwerpe wat gedurende die jaar aangeraak is.

CIPC jaarlikse opgawes

In terme van Artikel 33 van die Maatskappy Wet No. 71 van 2008 (“die Wet”), word daar van alle maatskappye en beslote korporasies vereis om jaarlikse opgawes by die “Companies and Intellectual Property Commission” (“CIPC”) in te dien.

Die doel van die jaarlikse CIPC-opgawe is om te bevestig dat:

  • ʼn entiteit nog in besigheid is;
  • ʼn entiteit handeldryf; en
  • ʼn entiteit in die nabye toekoms nog in besigheid en handeldrywend gaan wees.

Jaarlikse opgawes kan slegs elektronies op die CIPC se webtuiste ingedien word en binne die volgende voorgeskrewe tydperke. In die geval waar ʼn entiteit dormant is, word daar steeds van die entiteit verwag om ʼn jaarlikse opgawe by die CIPC in te dien ten einde deregistrasie te vermy.

Pligte en verantwoordelikhede van direkteure

In terme van die Wet, het ʼn direkteur gemeenregtelike fidusiêre pligte waarvan goedertrou een is.  Dit word verwag van ʼn direkteur dat hy/sy te alle tye in die beste belang van die maatskappy sal optree en nie enige inligting wat bekom word weens sy/haar amp vir eie gewin sal gebruik nie.

Buiten die gemeenregtelike pligte en verantwoordelikhede van ʼn direkteur, maak Artikel 75 en Artikel 76 van die Wet ook voorsiening vir die pligte en verantwoordelikhede van ʼn direkteur van ʼn maatskappy. Artikel 75 van die Wet inkorporeer die bepalings van Artikel 234 van die vorige Maatskappywet (No. 63 van 1973), deur ʼn verpligting op ʼn direkteur te plaas om ʼn konflik van belange, hetsy direk of indirek, te openbaar.

In terme van Artikel 76(3), word daar uitdruklik bepaal dat wanneer ʼn direkteur in sy/haar hoedanigheid as sulks optree, sodanige optrede en uitvoering van funksies in goeie trou en vir ʼn behoorlike doel asook in die beste belang van die maatskappy moet geskied. ʼn Direkteur moet te alle tye met die nodige sorg, vaardigheid en noulettendheid optree wat redelikerwys verwag kan word van ʼn persoon met dieselfde funksie/s en algemene kennis, vaardigheid en ervaring van daardie direkteur.

Solvensie- en likiditeitstoetse

In Artikel 22 (1)(b) van die Wet, word maatskappye verbied om handel te dryf in insolvente omstandighede en in Artikel 4 van die Wet word die vereistes vir die uitvoer van ʼn solvensie- en likiditeitstoets, uiteengesit.

Waar direkteure nie gehoor gee aan die vereistes van die uitvoer van ʼn solvensie- en likiditeitstoets in gevolge die Wet nie, kan hulle persoonlik aanspreeklik gehou word vir enige skade en verliese gely deur die maatskappy (Artikel 77 (3)(e) van die Wet).

ʼn Solvensie- en likiditeitstoets moet in die volgende gevalle uitgevoer word:

  • die verskaffing van finansiële bystand aan derde partye in die verkryging van aandele in die maatskappy (Artikel 44 van die Wet);
  • lenings en enige ander finansiële bystand aan verwante partye, insluitend filiaalmaatskappye, houermaatskappye en direkteure van die maatskappy (Artikels 38 en 44 van die Wet);
  • dividende en enige ander distribusies aan aandeelhouers (Artikel 46 van die Wet);
  • as ʼn betaling plaasvind eerder as ʼn uitreiking van kapitalisasie-aandele (Artikel 47 van die Wet);
  • waar die maatskappy sy aandele terugkoop (Artikel 48 van die Wet); en
  • in die geval van ʼn amalgamasie of samesmelting met ʼn ander entiteit (Artikel 113 van die Wet).

Naamsveranderinge

Dit staan ʼn maatskappy of beslote korporasie vry om sy naam te verander indien hy so verkies.  Vir maatskappye sal die naamsverandering ʼn spesiale besluit tot gevolg hê wat deur die aandeelhouers van die maatskappy goedgekeur moet word, en in die geval van ʼn beslote korporasie, moet die lede van die beslote korporasie die naamsverandering goedkeur.

Voor die naam van die maatskappy of beslote korporasie verander kan word, moet voorgestelde name aan die CIPC voorgelê word vir goedkeuring. Daar kan vier opsies van moontlike name verskaf word aan die CIPC in die volgorde van voorkeur. Wanneer die CIPC tevrede is met ʼn voorgestelde naam, sal hulle dit vir die gebruik van die maatskappy of beslote korporasie reserveer vir ʼn tydperk van 6 maande.

Dividendverklarings

Ingevolge Artikel 46 van die Wet, moet die direksie van die maatskappy die dividendverklaring goedkeur per skriftelike resolusie.  Die direkteure moet ook verklaar dat die solvensie- en likiditeitstoets toegepas is, soos vereis in Artikel 4 van die Wet, en dat hulle redelikerwys bevind het dat die maatskappy solvent en likied sal wees vir die 12 maande wat volg op die datum van die dividendverklaring.

Die dividend moet aan die aandeelhouers van die maatskappy uitbetaal word proporsioneel tot hulle aandeelhouding in die maatskappy, nadat die direksie die dividendbelasting in ag geneem en teruggehou het.  Die dividendbelasting is betaalbaar aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“die SAID”) teen die laaste werksdag van die maand wat volg op die verklaring van die dividend.

Finansiële bystand

Die bepalings van Artikel 44 en Artikel 45 van die Wet gee aan  die direksie van ʼn maatskappy die mag om, om buiten tot die mate waartoe  ʼn maatskappy se Memorandum van Inkorporasie (“MOI”) anders bepaal, die maatskappy kan magtig om finansiële bystand te verleen. Finansiële bystand in hierdie konteks kan op een of meer van die volgende wyses geskied, naamlik:  deur ʼn lening, die gee van ʼn waarborg, die verskaffing van sekuriteit , die inskrywing vir enige opsie wat deur die maatskappy, ʼn verwante of onderling verwante maatskappy uitgereik is of gaan word.

Fundamentele transaksies

Transaksies wat die eiendomsreg van ʼn maatskappy se bates beïnvloed of wat ʼn verandering van ʼn maatskappy se aandeelhouding veroorsaak, word deur die Wet gereguleer. Hierdie tipe transaksies waarvoor daar bykomstige regulering deur die Wet voorsiening gemaak word, staan bekend as ‘fundamentele transaksies’ of ‘geaffekteerde transaksies’.

Artikel 117(1)(c) van die Wet omskryf ʼn geaffekteerde transaksie as:

  • ʼn transaksie of reeks transaksies wat neerkom op die vervreemding van die geheel of grootste deel van die bates of onderneming van ʼn gereguleerde maatskappy;
  • ʼn amalgamasie of samesmelting indien ten minste een gereguleerde maatskappy daarby betrokke is; en
  • ʼn reëlingskema tussen ʼn gereguleerde maatskappy en sy aandeelhouers.

Trust as lid van ʼn beslote korporasie

Gevolglik sal die volgende persone gemagtig wees om as lede van ʼn beslote korporasie te dien:

  • ʼn Natuurlike persoon
  • ʼn Natuurlike of regspersoon in sy/haar hoedanigheid as ʼn trustee van ʼn testamentêre of inter vivos trust wat as verteenwoordiger van daardie trust optree, behalwe indien:
    • die persoon ʼn begunstigde van die trust is;
    • die trustee ʼn regspersoon is, en direk of indirek beheer word deur enige van die begunstigdes van die trust; en
    • ʼn natuurlike of regspersoon in sy/haar verteenwoordigende kapasiteit, insolvent, oorlede, verstandelik gestremd of andersins onbevoegd is om sy/haar eie sake te bestuur, ʼn trustee van sy/haar eie boedel is of ʼn administrateur, eksekuteur of kurator van sodanige boedel is.

Pariwaarde- en nie-pariwaarde-aandele

Regulasie 31 van die Wet bepaal egter dat ʼn vooraf geïnkorporeerde maatskappy nie enige nuwe pariwaarde-aandele ná 1 Mei 2011 mag magtig nie, maar wel nog van hierdie aandele mag uitreik indien daar reeds aandele in die spesifieke klas uitgereik is voor 1 Mei 2011 en mits daar nog gemagtigde aandele in die spesifieke klas beskikbaar is vir uitreiking.

Indien ʼn vooraf geïnkorporeerde maatskappy nie in ʼn sekere klas aandele enige van die gemagtigde pariwaarde-aandele voor 1 Mei 2011 uitgereik het nie, mag die vooraf geïnkorporeerde maatskappy nie enige aandele van daardie klas uitreik ná 1 Mei 2011 nie. In só ’n geval sal die vooraf geïnkorporeerde maatskappy daardie klas gemagtigde aandele eers moet omskep in aandele sonder pariwaarde deur middel van die MOI van die vooraf geïnkorporeerde maatskappy te wysig, waarna verdere uitreiking van daardie klas aandele sal kan plaasvind.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X