In terme van die bepalings van artikel 48 van die Maatskappywet No. 71 van 2008 (“die Wet”) is dit moontlik dat ’n maatskappy aandele wat uitgereik is kan terugkoop van aandeelhouers. Hierdie terugkoop van aandeletransaksies moet egter aan spesifieke statutêre vereistes soos in die Wet uiteengesit, voldoen. Artikel 48(8)(b) van die Wet bepaal dat ’n besluit deur ’n maatskappy om aandele terug te koop onderhewig is aan die bepalings van artikel 114 van die Wet indien die transaksie alleen of saam met ander transaksies in ’n geïntegreerde reeks transaksies oorweeg word, of indien dit die verkryging van meer as 5% van die maatskappy se uitgereikte aandele van enige spesifieke klas is.
Volgens die bepalings van artikel 114, moet die maatskappy ’n onafhanklike deskundige aanstel om ’n verslag op te stel wat betrekking het tot die terugkoop van die aandeletransaksie. Hierdie verslag word opgestel vir die direksie van die maatskappy en word ook versprei na al die houers van aandele/sekuriteite van die maatskappy en moet as minimum aan die volgende vereistes voldoen –
- daar moet verwys na die waarde van die aandele wat teruggekoop word;
- die houers van elke klas van aandele/sekuriteite moet geïdentifiseer word en die wesenlike uitwerking van die transaksie op daardie houers van elke klas van aandele/sekuriteit identifiseer;
- enige wesenlike negatiewe uitwerking van die transaksie moet evalueer word teenoor die vergoeding wat ontvang word vir die aandele, asook die voordele wat die transaksie inhou;
- enige wesenlike belange van ’n direkteur van die maatskappy moet geïdentifiseer word en die uitwerking van die transaksie moet daarop bespreek word; en
- ’n kopie van die bepaling van artikel 115 en artikel 164 van die Wet moet ingesluit word.
Die Wet sit nie slegs vereistes uiteen vir die inhoud van die verslag nie, maar sit ook vereistes uiteen waaraan die onafhanklike deskundige wat die verslag opstel moet voldoen, naamlik –
- die deskundige moet gekwalifiseerd wees en oor die nodige bekwaamheid beskik om die transaksie en die effek daarvan behoorlik te kan verstaan en evalueer;
- die regte van betrokke partye moet in ag geneem word, asook die regte van partye wat nie daarby betrokke is nie, maar wel daardeur geraak kan word; en
- die uitwerking van die transaksie op die waarde van die aandele asook die regte en belange van aandeelhouers moet geïdentifiseer en verstaan word.
Buiten bogenoemde vereistes is dit belangrik dat die maatskappy verseker dat die onafhanklike deskundige wat aangestel word om die verslag op te stel, geen verwantskap met of aan die maatskappy het nie. Verder moet daar ook geen verwantskap met enige van die partye wat betrokke is by die transaksie wees nie aangesien dit moontlik die onpartydigheid en objektiwiteit van die verslag onder verdenking kan plaas.
In die lig van voornoemde, is dit belangrik om te verseker dat behoorlike advies en hulp ingewin word alvorens sulke transaksies deurgevoer word. Indien dit nie gedoen word nie, kan dit negatiewe implikasies vir ’n maatskappy en die aandeelhouers inhou.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).